Quebec

Hierdie artikel handel oor die Kanadese provinsie. Sien gerus Quebec (dubbelsinnig) vir 'n lys van artikels wat met dieselfde titel geassosieer word.
Province de Québec

Vlag Landswapen
(Vlag van ) (Landswapen van )
Leuse : Je me souviens
Ander provinsies en gebiede van Kanada
Land Kanada
Hoofstad Quebecstad
46°49′N 71°12′W / 46.817°N 71.200°W / 46.817; -71.200
Grootste stad Montreal
Goewerneur-generaal J. Michel Doyon
Eerste Minister François Legault (CAQ)
Oppervlakte 1 542 056 km²
 - Land 1 183 128 vk km
 - Water 176 928 vk km (11,5%)
Bevolking (1 Julie 2019)
 - Totaal 8 484 965 inw.
 - Digtheid 5,5 inw./vk km
Toelating tot die Kanadese Federasie
 - Datum 1 Julie 1867
Verteenwoordiging in die Parlement
 - Parlement 75
 - Senaat 24
Posafkorting QC
Voorsetsel by poskode G H J
Tydsone UTC -51
Internet-domein .quebec.ca
1 UTC-4 op die eilandgroep îles de la Madeleine

Quebec (Frans: Québec, [keˈbɛk], ) is een van die tien provinsies van Kanada, met 'n landoppervlakte van 1 540 687 vierkante kilometer en 'n merendeels Franssprekende bevolking wat op 1 Julie 2019 op 8 484 965 beraam is.[1] Dit is die enigste van Kanada se provinsies waar uitsluitlik Frans erkenning geniet as ampstaal. Met sy eie taal, kultuur, tradisies en instellings, vorm Quebec 'n afsonderlike Franssprekende nasie in Kanada.[2]

Noorderlig oor Saguenay-Lac-Saint-Jean
Land van water, ingenieursvernuf en hoëtegnologie: Grootskaalse hidroëlektriese projekte soos die Complexe de la Baie-James (die foto toon die La Grande 4-aanleg) voorsien Quebec en dele van die VSA van krag
St-Clément, 'n klein nedersetting in die administratiewe streek Bas-Saint-Laurent

Die provinsie het grense met die Verenigde State in die suide, die provinsie Ontario in die weste en die provinsie Nieu-Brunswyk (Frans: Nouveau-Brunswick) in die ooste. Sowat die helfte van die grondgebied bestaan uit mere en riviere – die provinsie besit 16 persent van die wêreld se varswaterreserwes. Die noorde (Grand-Nord québécois) is arkties en yl bevolk, terwyl die vlaktes van die Sint-Laurensrivier (Frans: Fleuve Saint-Laurent) tot die gematigde sone behoort.

Quebec is Kanada se tweede mees bevolkte provinsie na Ontario. Die grootste deel van die bevolking is in stedelike gebiede langs die Sint-Laurensrivier tussen Montreal as die provinsie se ekonomiese en industriële spilpunt en die administratiewe hoofstad Quebecstad saamgetrek. Meer as die helfte van die Québécois, soos die bewoners in Frans genoem word, woon in die metropolitaanse gebied van Groter Montreal op en rondom Montrealeiland.

Groter gemeenskappe Engelssprekendes is in die weste van Montrealeiland saamgetrek, terwyl belangrike anglofone minderhede ook in streke soos die Outaouais, Estrie (ook die Eastern Townships genoem) en Gaspé aangetref word. Die uiterste noorde, die Nord-du-Québec-streek wat sowat die helfte van Quebec se oppervlakte beslaan, is yl bevolk en word merendeels deur Indiaanse en Inuït- gemeenskappe bewoon.

Alhoewel Kanada op federale vlak Engels en Frans as amptelike tale erken, bly die status van ampstaal in Quebec beperk tot Frans. As 'n gebied wat sy historiese en kulturele oorsprong in die eertydse Franse kolonies in Noord-Amerika het, is die provinsie tans die enigste gebied op die vasteland met 'n Franssprekende meerderheid en provinsiale regering en 'n Franse regstelsel, die Code civil.

Selfregering speel 'n belangrike rol in die politiek van Quebec – die amptelike opposisie, die Sosiaal-Demokratiese Parti Québécois, is 'n voorstander van nasionale onafhanklikheid. Regeringspartye, wat die wegbreek van Kanada as politieke agenda verkondig het, het al twee referendums (in 1980 en 1995) oor hierdie saak gehou, tog het 'n klein meerderheid Québécois teen die voorstel gestem. In 2006 het die Kanadese Laerhuis 'n simboliese mosie aanvaar waardeur die Franssprekende Québécois as 'n "nasie binne die verenigde Kanada" erken is.[3]

  1. "Institut de la statistique du Québec: La population des régions administratives, des MRC et des municipalités du Québec en 2019" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 30 September 2020. Besoek op 3 September 2020.
  2. Hoogste Hof van Kanada – Opposisie Quebec verwysing na 'n resolusie om wysiging van die Grondwet in 1982 Geargiveer 5 Mei 2010 op Wayback Machine – "Ons moet erken dat die twee volke wat Kanada gestig het, gelykwaardig is, en dat Quebec binne die Kanadese Federasie 'n selfstandige samelewing vorm wat deur oor sy eie taal, kultuur, instellings en al die eienskappe van 'n afsonderlike nasionale gemeenskap beskik", vertaling van: « On devra reconnaître que les deux peuples qui ont fondé le Canada sont foncièrement égaux et que le Québec forme à l’intérieur de l’ensemble fédéral canadien une société distincte par la langue, la culture, les institutions et qui possède tous les attributs d’une communauté nationale distincte. »
  3. Parliament of Canada: Hansard of 39th Parliament, 1st Session; No. 087. Routine Proceedings: The Québécois

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search